Bybele Beginsels
Studie 2: Die Gees Van God.
Die Gees Van God : Definisie | Inspirasie | Gawes Van Die Heilige Gees | Die Onttrekking Van Die Gawes Van Die Heilige Gees. | Die Bybel Die Enigste Gesag. | Inset (Is Die Heilige Gees 'N Persoon?, Die Beginsel Van Verpersoonliking., Calvinisme, "Julle Sal Die Gawe Van Die Heilige Gees Ontvang" (Handelinge 2:38)., Vir Die Wat Geglo Het, Sal Hierdie Tekens Volg (Markus 16:17).) | Vrae

2.2 Inspirasie

Ons het God se gees gedefinieer as Sy krag, denke, en geaardheid wat Hy openbaar deur die werke wat Hy uitvoer. Ons het in die vorige hoofstuk genoem hoe die werk van God se Gees gesien is in die skepping: "Deur sy asem(Gees) word die hemel helder;…" (Job 26:13); "die Gees van God het gesweef op die waters" (Genesis 1:2).

Ons lees egter ook "Deur die Woord van die HERE is die hemele gemaak" (Psalm 33:6). Dit stem ooreen met Genesis wat sê "en God het gesê" dinge moet geskep word en toe gebeur dit. God se gees word dus baie in sy woord weergegee –net soos ons woorde ons innerlike gedagtes en begeertes akkuraat weergee. Jesus wys die volgende uit: . " uit die oorvloed van die hart praat die mond" (Mattheüs 12:34). As ons dus ons woorde wil beheer moet ons eerstens aan ons gedagtes werk.

God se woord is 'n weerspieëling van Sy gees of denke. Dit is 'n seëning dat ons God se woord in die Bybel opgeteken vind sodat ons Sy gees of denke kan verstaan. God het hierdie wonderwerk, om sy Gees in die geskrewe woord uit te druk, bereik deur 'n proses van INSPIRASIE. Hierdie woord is juis afkomstig van die Engelse woord "INSPIRATION" wat weer die engelse woord vir gees, nl. "SPIRIT", as basis het. Derhalwe is die woorde wat die skrywers van die Bybel geskryf het onder inspirasie van God gewees - die woorde wat God se gees was.

Paulus het Timotheüs aangemoedig om nie sy bekendheid met die Skriftuur toe te laat om te vergeet dat dit die woorde van God se gees is nie, en dat alles dus voorsien is wat ons nodig het om 'n ware kennis van God te bekom : " en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus" (2 Timótheüs 3:15-17).

As die geïnspireerde Skrif so 'n totaliteit van kennis kan voorsien, is dit nie nodig dat 'n "innerlike lig" ons die waarheid oor God moet wys nie. Hoeveel keer praat mense nie egter van hulle persoonlike gevoelens en ervaringe as bron van hulle kennis van God nie?! As 'n aanvaarding in geloof van God se geïnspireerde woord genoeg is om iemand totaal toe te rus in sy Christen lewe, is daar geen nodigheid vir enige ander krag van geregtigheid in ons lewens nie.

As daar so 'n nodigheid was, beteken dit dat God se woord ons nie volledig toegerus het nie – maar Paulus het belowe dit sal. Om die Bybel in ons hand te hou en te glo dat dit werklik die Woord van God (Sy gees) is, verg heelwat geloof. Die Israeliete was redelik geïnteresseerd in wat God se woord te sê gehad het, net soos baie "Christene" vandag. Ons moet almal Hebreërs 4:2 ernstig betrag : " Want aan ons is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle; maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie."

Dit is baie meer aantreklik om 'n geestelike kort pad te vat in plaas daarvan om 'n volle geloof in die krag van God se geesgevulde woord te openbaar. Hierdie kort pad is om te redeneer dat 'n krag van geregtigheid skielik op ons neerdaal, eerder as om die pyn van 'n doelbewuste gehoorsaamheid aan God se Woord, waardeur God se gees werklik ons harte beïnvloed, te ervaar. Hierdie onwilligheid om die enorme geestelike krag van God se Woord te aanvaar het menige "Christene" laat twyfel of die Skriftuur wel ten volle deur God geïnspireer is.

Sommige stel selfs voor dat baie gedeeltes in die Bybel slegs die opinies van wyse ou manne is. Petrus weerspreek egter duidelik sulke ongegronde menings :- "En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die morester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif 'n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek" (2 Petrus 1:19-21).

Ons moet, bo alles, glo dat die hele Bybel geïnspireer is. Dit is om hierdie rede dat ons dit 'n fundamentele klousule van die Christadelphian Geloofsverklaring gemaak het.

DIE SKRYWERS VAN DIE BYBEL

'n Vaste geloof in die totale inspirasie van die Skrif is uiters belangrik. Die skrywers van die Bybel was onweerstaanbaar deur die gees wat hulle geïnspireer het meegevoer, en sodoende was hulle woorde nie hul eie nie. Dit is nie verbasend dat die Woord van God, wat die waarheid is (Johannes 17:17), teregwys en weerlê (2 Timótheüs 3:16,17), nie by baie populêr is nie, aangesien die waarheid seermaak.

Die profeet Jeremia het baie teenstand verduur omdat hy woorde wat deur God geïnspireer is gespreek het. Hy het hom toe voorgeneem om nie die woorde wat aan hom gegee was neer te skryf of bekend te maak nie. Aangesien die skryf van God se Woord die resultaat van God se wil is, eerder as die van menslike begeerte, was Jeremia "meegevoer deur die gees van God" sodat hy geen keuse in die saak gehad het nie. "HERE, U het my oorgehaal, en ek het my laat oorhaal; U was te sterk vir my en het oorwin; ek was 'n belagging die hele dag, almal saam spot met my . . .En as ek sê: Ek sal aan Hom nie dink nie en in sy Naam nie meer spreek nie, dan word dit in my hart soos 'n brandende vuur, opgesluit in my gebeente. En ek het my moeg gemaak om uit te hou, maar kon nie" (Jeremia 20:7,9).

So ook het Bileam, toe hy vasbeslote was om Israel te vervloek, hulle eerder geseën omdat die gees van God hom daartoe gedwing het. (Numeri 24:1-13 vergelyk Deuteronomium 23:5).'n Verbasende aantal mans vir wie God gïnspireer het om Sy woord te spreek, het deur tye gegaan waar hulle huiwerig was om dit te doen. Die lys is indrukwekkend:- Moses (Exsodus 4:10) Esegiël (Esegiël 3:14) Jona (Jona 1:2,3) Paulus (Handelinge 18:9) Timotheüs (1 Timotheüs 4:6-14) Bileam (Numeri 22 – 24)

Dit alles bevestig wat ons in 2 Petrus 1:19-21 leer nl. dat God se Woord nie die persoonlike opinie van die mens is nie, maar die gevolg van mense wat geïnspireerd was om neer te skryf wat aan hulle openbaar was. Die profeet Amos sê" "Die Here HERE het gespreek, wie sal nie profeteer nie?" (Amos 3:8). As hierdie skrywers net gedeeltelik geïnspireerd was, het ons nie toegang tot die ware Woord of Gees van God nie. As wat hulle geskryf het regtig die Woord van God is, volg dit dat hulle ten volle deur God se gees in besit geneem moes gewees het tydens die periode van inspirasie – andersins sou die eindproduk nie God se reine Woord gewees het nie.

'n Aanvaarding dat God se Woord totaal Sy eie is, gee ons groter motivering om dit te lees en te gehoorsaam : "U woord is deur en deur gelouter, en u kneg het dit lief" (Psalm 119:140). Die boeke van die Bybel is dus die werk van Sy gees, eerder as die literatuur van mense. Die waarheid hiervan word gesien in die wyse waarop die Nuwe Testament na die Ou Testament verwys:

  • (Mattheüs 2:5) "En hulle het vir hom gesê: Te Betlehem in Judéa, want so is daar deur die profeet geskrywe:"

  • (Handelinge 1:16) "Broeders, hierdie Skrif moes vervul word wat die Heilige Gees voorspel het deur die mond van Dawid aangaande Judas wat die leier was van die wat Jesus gevange geneem het;"

  • (Hebreërs 3:7) "Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor,"

(Handelinge 28:25) " Tereg het die Heilige Gees deur Jesaja, die profeet, tot ons vaders gespreek."

Die menslike skrywers van die Bybel was derhalwe relatief onbelangrik vir die vroeë Christene; die feit dat hulle woorde deur die Gees van God geïnspireer was, was belangrik. Ons sluit hierdie afdeling af met 'n lys van verse wat wys dat God se Gees aan ons geopenbaar word deur Sy geskrewe woord :

  • Jesus sê duidelik : ".. die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe" (Johannes 6:63); Hy het onder inspirasie van God gepraat (Johannes 17:8; 14:10).

  • Ons word beskryf as weergebore deur beide die gees (Johannes 3:3-5) en die woord van God (1 Petrus 1:23).

  • "…. woorde wat die HERE van die leërskare deur sy Gees, deur die diens van die vroeëre profete gestuur het …" (Sagaria 7:12).

  • " Wend julle tot my teregwysing, dan laat ek my gees vir julle uitstroom, wil ek my woorde aan julle bekend maak" (Spreuke 1:23). Hierdie vers assosieer 'n ware insig van God se woord met die invloed wat sy Gees op ons het – om die Boek te lees sonder om dit te verstaan is van geen nut nie aangesien die gees / denke van God nie aan ons geopenbaar word nie.

Daar is ooreenkomste tussen God se Gees en Sy Woord in baie skrifgedeeltes:

  • (Jesaja 59:21) "My Gees wat op jou is, en my woorde wat Ek in jou mond gelê het, sal uit jou mond nie wyk nie,"

  • (2Samuel 7:21) "Ter wille van u woord en volgens u hart (Gees)…" Sien ook Esegiël 36:27 en Jeremia 31:33.

DIE KRAG VAN GOD SE WOORD

God se gees verwys nie net na Sy denke of geaardheid nie, maar ook na die krag waardeur Hy aan daardie gedagtes uitdrukking gee. Dit is dan te verwagte dat Sy gees gevulde woord nie net 'n verklaring van Sy denke is nie, maar dat daar ook 'n dinamiese krag in daardie woorde sal wees. 'n Opregte waardering van hierdie krag behoort ons gretig te maak om dit te gebruik.

Enige gevoelens van verleentheid om dit te doen behoort oorkom te word deur die wete dat gehoorsaamheid aan God se Woord ons die krag sal gee om uit die nietige dinge van hierdie lewe te styg tot die ewige lewe. Paulus se begrip van hierdie beginsel druk hy as volg uit:

"Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is 'n krag van God tot redding vir elkeen wat glo,… " (Romeine 1:16)

Lukas 1:37 beklemtoon dieselfde tema :"Geen woord van God sal sonder krag (Gees) wees nie."

Bybelstudie en die toepassing daarvan is dus 'n dinamiese proses. Dit is heel onverwant aan die koue, akademiese benadering van teoloë en ook die "voel goed" Christenskap van menige kerke, waar 'n paar skrifgedeeltes kortliks aangehaal word maar geen moeite gedoen word om hulle te verstaan of toe te pas nie. "Die woord van God is lewend en kragtig" (Hebreërs 4:12);. Dit is "die woord van sy krag" (Hebreërs 1:3) en "die woord van God wat ook werk in julle wat glo" (1 Thessalonicense 2:13). Deur Sy woord is God aktief aan die werk in die denke van ware gelowiges, elke uur van die dag.

Die basiese boodskap van die Evangelie wat U besig is om te leer is dus die ware krag van God. As U dit toelaat kan dit in U lewe werk om U te verander in 'n kind van God wat die gees (denke) van God tot 'n sekere mate in hierdie lewe toon, en U voorberei vir die verandering na God se geestelike natuur met Jesus se wederkoms (2 Petrus 1:4).

Ons word omring deur mense wat 'n semi-geloof in die Bybel as God se Woord het, nieteenstaande hulle aansprake van toegewydheid aan Christus nie. Eweneens maak hulle aanspraak daarop dat hulle in God glo en tog weier hulle om te aanvaar dat Hy werklik 'n persoon is. Deur die totale inspirasie van die Skrif, en die gesag daarvan oor ons persoonlike gevoelens en oortuigings te ontken, ontken hulle God se krag.

Die woorde van 2 Timotheüs 3:5 klink hier bekend: "'n gedaante van godsaligheid maar die krag daarvan verloën", dit is die krag van die Woord van die Evangelie. Ons fundamentalisme word deur die wêreld bespot ("Jy glo die Bybel tog nie so nie, glo jy?!"), en so was dit ook vir Paulus en sy mede verkondigers."Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God" (1 Korinthiërs 1:18).

Met dit alles in gedagte, behoort ons eerder ons Bybels in ons hande te hou met 'n selfs groter mate van respek, en dit dan te lees met groter gretigheid om dit te verstaan en te gehoorsaam.

DIE GESINDHEID VAN GOD SE MENSE TEENOOR SY WOORD

'n Noukeurige lees van die Bybel wys dat die skrywers daarvan nie net besef het dat hulle geïnspireerd was nie, maar ook dat die ander skrywers geïnspireerd was. Die Here Jesus is 'n uitstaande voorbeeld. Toe Jesus uit die Psalms aangehaal het, sê hy vooraf "Dawid Hom in die gees . . ." (Mattheüs 22:43).

Dit wys sy erkenning van die feit dat Dawid se woorde geïnspireerd was. Jesus praat ook van Moses se "geskrifte" (Johannes 5:45-47), wat bewys dat Hy geglo het Moses het die Pentateug (eerste 5 boeke van die Bybel) geskryf. Die sogenaamde "hoër kritici" Christene twyfel of Moses kon geskryf het, maar Jesus se gesindheid weerspreek hulle duidelik. Hy het Moses se geskrewe boeke "die gebod van God" genoem (Markus 7:8,9).

Dieselfde groep twyfelaars maak die aanspraak dat baie van die Ou Testament net 'n mite is, maar nie Jesus of Paulus behandel die Ou Testament so nie. Jesus praat van die koningin van Skeba as 'n historiese feit (Mattheüs 12:42). Hy het nie gesê "Daar is 'n storie oor 'n koningin van Skeba .." nie. Daar is baie verwysings in Handelinge, die Briewe en Openbaring, na die vier Evangelies, wat wys dat hulle nie alleen deur dieselfde gees geïnspireer is nie, maar ook dat die Nuwe Testament skrywers die Evangelies as geïnspireerd beskou het.

In 1 Timotheus 5:18 haal Paulus beide Deuteronomium 25:4 (in die Ou Testament) en Lukas 10:7 as "Skriftuur" aan. Hy hamer verder op die punt dat sy boodskap van Christus afkomstig is en nie van homself nie (Galasiërs 1:11,12; 1 Korinthiërs 2:13; 11:23; 15:3). Dit word weer erken deur ander apostels; so haal Jakobus Paulus se woorde van Galasiërs 5:17 in Jakobus 4:5 as "die Skrif" aan. God het tot ons "gespreek" deur Christus (Hebreërs 1:2). Daar is dus geen nodigheid vir enige verdere openbaring nie. Dit is wel so dat die Bybel na ander geïnspireerde werke verwys wat nie nou meer beskikbaar is nie (bv. die boek van Jaser, die werke van Natan en Elia). Hoekom het hierdie boeke nie vir ons behoue gebly nie? Waarskynlik omdat hulle nie vir ons toepaslik was nie. Ons kan egter verseker wees dat God dit wat belangrik is behoue laat bly het.

Dit word soms beweer dat die boeke van die Nuwe Testament geleidelik as geïnspireerd aanvaar was, maar die feit dat die Apostels mekaar se werke as geïnspireerd aanvaar het, bewys sulke beweringe seer sekerlik verkeerd. Daar was 'n gawe van die Gees teenwoordig wat kon "toets" en bevestig of briewe wat daarop aanspraak gemaak het, wel geïnspireerd was (1 Korinthiërs 14:37; 1 Johannes 4:1; Openbaring 2:2). Dit beteken dat die geïnspireerde boeke dadelik as sulks aanvaar was. As daar enige menslike keuse was met betrekking tot watter boeke in die Bybel ingesluit moes wees, sou die Bybel geen gesag gehad het nie.


   Back
Home
Back