Bybele Beginsels
Studie 2: Die Gees Van God.
Die Gees Van God : Definisie | Inspirasie | Gawes Van Die Heilige Gees | Die Onttrekking Van Die Gawes Van Die Heilige Gees. | Die Bybel Die Enigste Gesag. | Inset (Is Die Heilige Gees 'N Persoon?, Die Beginsel Van Verpersoonliking., Calvinisme, "Julle Sal Die Gawe Van Die Heilige Gees Ontvang" (Handelinge 2:38)., Vir Die Wat Geglo Het, Sal Hierdie Tekens Volg (Markus 16:17).) | Vrae

2.1 Die Gees Van God : Definisie

Dit is te verwagte dat God 'n wyse sal hê waarop Hy Sy begeertes en gevoelens met ons, Sy kinders, sal wil deel. Hy sal ook in ons lewens optree op 'n manier wat konsekwent is met Sy karakter. God doen al hierdie dinge deur Sy "gees". As ons God wil ken en 'n aktiewe verhouding met Hom wil hê, is dit nodig om te weet wat hierdie "gees" van God is en hoe dit werk.

Dit is nie maklik om presies te definieer wat die woord "gees" beteken nie. As U byvoorbeeld na 'n troue toe gaan sal U dalk opmerk "daar het 'n goeie gees geheers". Hiermee sou U bedoel dat die atmosfeer goed was, almal was goed geklee, die mense was gaaf teenoor mekaar, die bruid het pragtig gelyk, ens. Al die verskeie aspekte het die "gees" van die troue bepaal. So som die "gees" van God in 'n sekere mate alles oor Hom op.

Die Hebreeuse woord wat as "gees" in die Ou Testament vertaal is beteken streng gesproke "asem" of "krag". Dus is God se "gees" Sy asem, wat Sy denke, doel en wese reflekteer. Ons sal voorbeelde gee van hoe die woord "gees" gebruik word t.o.v. iemand se denke of sy geneentheid in studie 4.3.

Dit is 'n algemene lering dat 'n mens se denke in sy optrede gewys word (Spreuke 23:7; Mattheüs 12:34) - 'n nabetragting oor ons eie aksies sal dit bevestig. Ons dink aan iets en doen dit dan. Ons "gees" of denke mag dink aan die feit dat ons honger is en kos verlang. Ons sien 'n appel in die kombuis – die begeerte van die "gees" word omgeskakel na aksie – ons neem die appel en eet dit.

Hierdie eenvoudige voorbeeld wys hoekom die Hebreeuse woord vir "gees" beide asem en denke en ook krag kan beteken. Ons "gees" is essensieel ons, dit verwys na ons denke en geaardheid, en dus ook na aksies wat ons uitvoer om uiting aan daardie denke te gee.

God se gees is dieselfde maar op 'n baie groter, glorieryke skaal - dit is die krag waardeur Hy Sy essensiële wese, Sy doel en Sy geaardheid openbaar. God dink en doen dus dinge: "Waarlik, soos Ek gedink het, so gebeur dit; en soos Ek besluit het, kom dit tot stand" (Jesaja 14:24).

DIE KRAG VAN GOD

Baie skrifgedeeltes identifiseer duidelik God se gees met Sy krag. Ten einde die heelal te skape het die "gees van God" op die waters gesweef. En God het gesê "Laat daar lig wees en daar was lig" (Genesis 1:2,3).

God se gees was die krag waardeur alle dinge gemaak was.

  • Job 26:13 "Deur sy asem(gees) word die hemel helder; sy hand het die vinnige slang deurboor."

  • Psalm 33:6 "Deur die Woord van die HERE is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër."

God se gees word dus beskryf as Sy asem, Sy Woord, Sy hand. Dit is dus deur God se krag dat Hy alles vermag. So word gelowiges dan wedergebore deur God se wil (Johannes 1:13), wat deur Sy gees geskied (Johannes 3:3-5). God se wil word deur Sy gees tot aksie oorgesit. As daar gepraat word van die algehele natuurlike skepping lees ons "U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak (daardeur) die gelaat van die aarde nuut" (Psalm 104:30).

Hierdie gees (krag) is ook dit wat alles onderhou. Dit is maklik om te dink dat die lewe voort gaan sonder die aktiewe invloed van God se gees. Job, 'n man wat moeg geraak het vir hierdie lewe, was hieroor herinner: "As Hy op Homself ag sou gee, sy Gees en sy asem na Hom sou terugtrek, dan sou alle vlees tesame die asem uitblaas en die mens sou tot stof terugkeer" (Job 34:14,15). Toe Dawid 'n tyd van depressie moes oorkom, vra hy God om aan te hou om hom met Sy gees te onderskraag (Psalm 51:14).

Ons sal in studie 4.3 sien dat die gees wat aan ons gegee is, ons lewe onderhou. Ons het die asem van die lewensgees in ons (Genesis 7:22) en dit is aan ons gegee deur God met geboorte (Psalm 104:30; Genesis 2:7). Dit maak dus God die "God van die geeste van alle vlees" (Numeri 27:16 vergelyk Hebreërs 12:9).

Omdat God die lewenskrag is wat die hele skepping onderhou, is Sy gees oral teenwoordig. Dawid het erken dat God deur sy Gees altyd met hom was waar hy ook al gegaan het, en dat God deur Sy gees (krag) elke deel van Dawid se denke en gedagtes kon ken. God se gees is dus die wyse waarop Hy oral teenwoordig is, alhoewel Hy fisies en persoonlik in die hemel woon. " U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte . . . Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig?. . . Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou" (Psalm 139:2,7,9,10).

Die regte insig oor hierdie onderwerp openbaar God aan ons as 'n magtige, aktiewe wese. Baie mense het groot geword met 'n vae "geloof" in God, terwyl "God" in werklikheid net 'n abstrakte konsep in hulle denke is. 'n Insig oor die ware God en Sy werklike alomteenwoordigheid deur Sy gees kan ons perspektief op die lewe totaal verander.

Ons word omring deur God se gees en sien telkens die werke daarvan wat God aan ons openbaar. Dawid het die bemoediging hiervan wonderlik gevind … "Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie" (Psalm 139:6). Verantwoordelikheid gaan egter gepaard met sulke kennis; ons moet aanvaar dat ons denke totaal aan God bekend is. Wanneer ons ons posisie voor hom in oënskou neem, veral voor ons gedoop wil word, moet ons hierdie feit in gedagte hou. God se woorde aan Jeremia is ook op ons van toepassing: "Sou iemand hom in skuilplekke kan wegsteek dat Ek hom nie sien nie? spreek die HERE. Vervul Ek nie die hemel en die aarde nie? spreek die HERE" (Jeremia 23:24).

DIE HEILIGE GEES.

Ons het gesien dat God se gees 'n baie omvattende begrip is om te verstaan. Dit is Sy denke, Sy geaardheid en ook die krag waardeur Hy Sy denke tot aksie omsit. "Want soos hy in sy siel bereken, so is hy… " (Spreuke 23:7). Hierdie beginsel geld veral t.o.v. God. God, Sy denke, en in die sin ook Sy gees is dus een (Johannes 4:24), alhoewel dit nie beteken dat God nie 'n persoonlike wese is nie (sien Inset 1).

Om ons te help om hierdie moeilike konsep van God se gees beter te begryp, lees ons soms van Sy "Heilige Gees". Hierdie term word byna eksklusief in die Nuwe Testament gevind. Die Heilige Gees is gelykstaande aan die Ou Testament term "die Gees van God" of "die Gees van die Here".

Die Heilige Gees is dus 'n ander benaming vir die Gees van God. Die Heilige Gees bly dus God s'n, iets wat van Hom afkomstig is en aan Hom behoort. Dit is duidelik uit skrifgedeeltes soos Handelinge 2, wat die uitstorting van die Heilige Gees oor die apostels tydens Pinkster beskryf. Petrus verduidelik dan dat dit 'n vervulling was van die profesie van Joël. In hierdie profesie word dit beskryf as die uitstorting van "my (God se) Gees" (Handelinge 2:17).

In Lukas 4:1 lees ons dat Jesus, gevul met die Heilige Gees, teruggekeer het van die Jordaan en later in dieselfde hoofstuk sê Jesus dit is die vervulling van Jesaja 61:1: "Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om 'n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur…." In beide gevalle (soos in baie ander) word die Heilige Gees gelyk gestel aan die "Gees van God." waarvan ons so baie in die Ou Testament lees. Let ook op hoe die Heilige Gees gelyk gestel word aan die krag van God in die volgende versgedeeltes:

;"… Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu….." (Lukas 1:35).

"…..die krag van die Heilige Gees! . . . deur die krag van tekens en wonders, deur die krag van die Gees van God, " (Romeine 15:13,19) .

"Want ons evangelie het tot julle nie gekom in woord alleen nie, maar ook in krag en in die Heilige Gees .." (1 Thessalonicense 1:5).

Die belofte van die Heilige Gees aan die dissipels sou maak dat hulle " toegerus is met krag uit die hoogte" (Lukas 24:49).

Jesus self is"gesalf met die Heilige Gees en met krag" (Handelinge 10:38).

Paulus se prediking het gepaard gegaan met vertonings van God se krag:" en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag" (1 Korinthiërs 2:4).


  Back
Home
Back