Bybele Beginsels
Studie 11: 'n Lewe in Christus
Inleiding | Heiligheid | Die gebruik van geweld | Die politiek | Wêreldse plesier | Bybelstudie | Gebed | Verkondiging | Kerklewe | Die breek van brood - Nagmaal. | Die Huwelik | Gemeenskap | Vrae

11.3.5 Die breek van brood - Nagmaal.

Saam met bid en Bybellees, is dit van die uiterste belang dat Christus se bevel om brood te breek en wyn te drink, tot sy gedagtenis, gereeld gehoorsaam word. "Doen dit tot my gedagtenis," het Jesus beveel (Lukas 2:19). Dit was sy wil dat sy volgelinge dit gereeld moet doen tot sy tweede koms, wanneer Jesus dan weer met hulle die brood en die wyn sal deel (1 Korinthiërs 11:26 ; Lukas 22:16-18).

Die brood verteenwoordig Christus se liggaam wat aan die kruis geoffer is, en die wyn sy bloed (1 Korinthiërs 11:23-27). Dit blyk dat die vroeë gelowiges hierdie diens gereeld gehou het (Handelinge 2:42, 46), waarskynlik een keer per week (Handelinge 20:7). As ons werklik vir Christus liefhet, sal ons sy gebooie onderhou (Johannes 15:11-14). As ons 'n egte persoonlike verwantskap met hom het, sal ons sy offerande wil onthou, soos hy gevra het, en so onsself bemoedig deur die herinnering van die groot redding wat hy bereik het. 'n Tydjie van stille betragting oor sy lyding aan die kruis, sal ons eie beproewinge soos niks laat lyk wanneer ons hulle vergelyk met ons Here Jesus s'n nie.

Die breek van brood is basies 'n diens van herinnering; dit is nie asof dit iets bonatuurlik tot gevolg het nie. Dit is soos die pasgafees onder die wet van Moses (Lukas 22:15; 1 Korinthiërs 5:7,8). Dit was die manier hoe die groot verlossing van Egipte, wat God deur Moses by die Rooi See bewerkstellig het, onthou is. Die breek van brood diens neem ons terug na ons verlossing van die sonde deur Christus, wat moontlik gemaak is aan die kruis, en waarmee ons ons vereenselwig deur die dood. Om hierdie gebod te hou moet dus vir ons iets wees wat ons regtig wil doen.

Deur fisies die brood en die wyn te neem, maak dat ons intens bewus word van Christus se liefde vir ons, sowel as alles wat met ons saligheid gepaard gaan. Derhalwe is die breek van brood een keer per week 'n teken van 'n gesonde geestelike toestand. As 'n mens dit nie met mede-gelowiges van die Waarheid kan doen nie, moet dit alleen gedoen word. Geen verskoning moet ons keer om hierdie gebod te hou nie.

As ons baie ver van mede-gelowiges woon, moet ons sorg dat daar altyd brood en wyn is om een keer per week die diens te hou, al is dit alleen. In uiterste omstandighede moet selfs 'n gebrek aan brood en wyn nie keer dat ons vir Christus onthou, so goed as wat ons kan nie. Jesus het die "vrug van die wynstok" gebruik (Lukas 22:18), en ons moet derhalwe rooi druiwewyn gebruik.

Om die embleme van Christus se lyding en offer te neem, is die hoogste eer wat 'n man of 'n vrou kan hê, Om hulle te gebruik sonder om te waardeer wat hulle verteenwoordig, is feitlik godslastering,

"Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom. Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here." (1 Korinthiërs 11:26,27).

'n Nagmaaldiens moet dus gehou word op 'n tyd en plek waar daar nie steurings en onderbrekings is nie. Dit mag beteken dat dit vroeg in die oggend of laat in die aand gedoen word, in 'n slaapkamer of ander geskikte plek. Verder word ons vermaan, "Maar die mens moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker drink" (1 Korinthiërs 11:28). Ons moet derhalwe ons gedagtes op Christus se offer van homself konsentreer, en kan byvoorbeeld in die Evangelies lees van sy kruisiging, voor ons die embleme gebruik. Deur dit op die regte manier te doen sal ons ook nadink oor ons gewete teenoor Christus.

'n Goeie volgorde vir die Nagmaaldiens is soos volg:-

  1. Gebed – waarin God se seëning op die byeenkoms gevra word; dat Hy ons oë oopmaak vir Sy Woord; waarin ons vra vir die welsyn van ander gelowiges; Hom loof vir Sy liefde, en gebed oor enige ander spesifieke sake.

  2. Doen die Bybellesings vir die dag soos gespesifiseer in die "Bybelleesplan".

  3. Dink oor die lesse wat hieruit kom, of lees 'n preek wat lei na die doel van ons diens – die herinnering van Christus.

  4. Lees 1 Korinthiërs 11:23-29.

  5. Periode van stille selfondersoek.

  6. Gebed vir die brood.

  7. Breek die brood en eet 'n klein stukkie daarvan.

  8. Gebed vir die wyn.

  9. Drink 'n klein bietjie wyn.

  10. Sluit af met gebed.

Die hele diens behoort net meer as 'n uur te duur.


  Back
Home
Next