Bybele Beginsels
Studie 11: 'n Lewe in Christus
Inleiding | Heiligheid | Die gebruik van geweld | Die politiek | Wêreldse plesier | Bybelstudie | Gebed | Verkondiging | Kerklewe | Die breek van brood - Nagmaal. | Die Huwelik | Gemeenskap | Vrae

11.2.2 Die politiek

'n Duidelike begrip van, en 'n sterk geloof in, die koms van God se Koninkryk beteken dat ons sal besef dat geen menslike Regering volmaaktheid kan bring nie. Enige betrokkenheid by menslike politiek is derhalwe teenstrydig met die hoop van die Koninkryk.

Jesus het voorspel dat dinge sal versleg in "die laaste dae", net voor Sy koms (Lukas 21:9-11, 25-27). Dit is nie moontlik om sy woorde te glo en terselfde tyd die wêreld se toestand te probeer verbeter deur menslike politiek nie. Die gelykenis van die barmhartige Samaritaan wys hoe die Christen die wêreld om hom moet help – doen goed aan almal, terwyl ons geleentheid het (Galasiërs 6:10).

Dit wat oor die vroeë gelowiges geskryf is wys dat hulle verbind was aan 'n geestelike lewenswyse in afwagting op Christus se wederkoms. Hulle het hul besorgdheid vir die wêreld hoofsaaklik getoon deur vir hulle te preek. Ons lees nêrens dat hulle die sosiale, ekonomiese of politieke probleme van die wêreld om hulle probeer oplos het nie.

Jeremia 10:23 sê " Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan 'n man om te loop en sy voetstappe te rig nie." Hier sien ons dat die fundamentele sondigheid van die menslike natuur beteken dat menslike leierskap nie geskik is vir God se mense nie. Om te stem is dus strydig met 'n ware begrip hiervan. "Die Allerhoogste (het) mag oor die koningskap van die mens en gee dit aan wie Hy wil" (Daniël 4:32). Menslike heersers kry dus maar eintlik hul mag van God (Romeine 13:1); om te stem in 'n demokratiese sisteem kan derhalwe beteken dat jy teen die persoon stem wat God aan bewind wil hê. So word dit opgeteken dat God sekere lande onder die beheer van Nebukadneser gegee het (Jeremia 27:5,6).

Omdat ons besef dat God alle nasies in die hande van hulle regeerders gegee het, moet ons baie versigtig wees om voorbeeldige burgers te wees en ons te onderwerp aan die wette van die land waar ons lewe, tensy hulle bots met die wet van Christus. "Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang. Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte.

Maar wil jy die mag nie vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang; want hy is 'n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is 'n dienaar van God, 'n wreker om die een wat kwaad doen, te straf."

Daarom is dit noodsaaklik om jou te onderwerp, nie alleen ter wille van die straf nie, maar ter wille van die gewete. Want daarom betaal julle ook belastings; want hulle is dienaars van God wat juis hiermee voortdurend besig is. Betaal dan aan almal wat aan hulle verskuldig is: belasting aan die wat belasting, tol aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer toekom" (Romeine 13:1-7).

Die betrokkenheid van Christen organisasies in sekere vorms van politieke protes en belasting boikotte is dus 'n aanduiding van hulle verontagsaming van hierdie basiese Bybelbeginsels. Petrus se voorbeeld van iemand wat aanhou om oor Christus te preek, ten spyte daarvan dat die regering hom verbied het om dit te doen, wys hoe ons slegs menslike bevele kan gehoorsaam as hulle nie met Christus se gebooie bots nie: "Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis" (Handelinge 4:17-20; 5:28,29). Die Christadelphian houding teenoor verpligte militêre diens in die laaste paar jaar is nog 'n voorbeeld hiervan.


  Back
Home
Next