Bybele Beginsels
Studie 11: 'n Lewe in Christus
Inleiding | Heiligheid | Die gebruik van geweld | Die politiek | Wêreldse plesier | Bybelstudie | Gebed | Verkondiging | Kerklewe | Die breek van brood - Nagmaal. | Die Huwelik | Gemeenskap | Vrae

11.3.3 Verkondiging

Een van die grootste versoekinge wat ons kan hê deur ons kennis van die ware God, is om geestelik selfsugtig te word. Ons kan so in ons skik wees met ons eie persoonlike verhouding met God, so opgeneem word in ons persoonlike Bybelstudie en geestelikheid, dat ons kan nalaat om hierdie dinge met ander (ons mede-gelowiges sowel as die wêreld om ons) te deel. Die Woord van God en die ware Evangelie wat daarin gevind word, word vergelyk met 'n lig of lamp wat in die donker skyn (Psalm 119:105; Spreuke 4:18). Jesus het daarop gewys dat niemand wat so 'n lig het dit onder 'n emmer sit nie, maar dat dit openlik vertoon word (Mattheüs 5:15). "Julle is die lig van die wêreld" as gevolg van die doop in Christus, "die lig van die lewe" (Mattheüs 5:14; Johannes 8:12). Jesus het verder gesê dat, " 'n stad wat bo-op 'n berg lê, nie weggesteek kan word nie" (Mattheüs 5:14).

As ons regtig leef volgens die ware Evangelie, sal ons "heiligheid" gesien kan word deur almal met wie ons in aanraking kom. Ons sal nie die feit kan verberg dat ons "afgesonder" is vir die hoop van die Koninkryk nie, en sodoende ook nie dat ons "afgesonder" van hulle wêreldse weë is nie.

Ons moet probeer om ons kennis van die Waarheid met almal met wie ons in kontak kom op 'n taktvolle manier te deel: stuur gesprekke in 'n geestelike rigting; praat oor leerstellings met lede van ander kerke; versprei leesstof; plaas advertensies in die plaaslike media.

Hierdie is alles voorbeelde van hoe ons ons lig kan laat skyn. Ons mag nie dink dat ons die werk van verkondiging aan ander gelowiges kan oorlaat nie; elkeen van ons het 'n individuele verantwoordelikheid om dit self te doen. Christadelphians het relatief min georganiseerde, grootskaalse verkondigingsaksies in vergelyking met ander groepe. Elkeen van ons, individueel, doen wat ons kan, meesal op ons eie persoonlike onkoste.

Een van die suksesvolste maniere van verkondiging is om ons geloof aan familie, en mense met wie ons in gedurige kontak is, te verduidelik. Die wie se naasbestaandes nie in die geloof is nie, moet hul geloof aan hulle verduidelik – maar as dit eers gedoen is, sal dit onwys wees om druk uit te oefen of om gedurig geskilpunte op te bring. God wil nie mense hê wat onder druk bekeer is nie. Ons plig is om oor die Waarheid te getuig, sonder om te besorg te wees oor hoeveel mense dit aanvaar of nie. Ons het 'n groot verantwoordelikheid om hieroor te getuig (Esegiël 3:17-21); as Christus in ons leeftyd terugkom sal "twee op die land wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word" (Lukas 17:36). Hoe gaan ons voel, wanneer die Here terugkom, as ons nooit met ons familie of vriende hieroor gepraat het nie?


  Back
Home
Next