Bybele Beginsels
Studie 4: God En Die Dood
Die Menslike Natuur | Die Siel | Die Gees Van Die Mens | Dood Is Onbewustheid | Die Opstanding | Die Oordeel | Die Plek Van Beloning: Hemel Of Aarde? | Verantwoordelikheid Teenoor God | Hel | Inset (Die Vagevuur, Spoke En Reïnkarnasie, Met Watter Natuur Sal Ons Opgewek Word?, Die Wegraping) | Vrae

Inset 14: Die Wegraping

Daar is 'n algemene geloof onder die ‘evangelistiese’ kerke dat die geregtiges ‘weggeraap’ sal word met die wederkoms van Christus. Hierdie idee word ook geassosieer met die geloof dat die aarde vernietig sal word met Christus se wederkoms. Ons het reeds in inset 9 gesien dat dit nie moontlik is nie. Ons het ook reeds uitgewys dat die plek waar ons ons beloning sal ontvang en sal uitleef die aarde is en nie die hemel nie. Hierdie wanopvatting word gebaseer op die verkeerde interpretasie van 1 Thessalonisense 4:16,17: "Want die Here self sal van die hemel neerdaal ……….. en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees."

Behalwe vir die gevaar om so 'n geloof te baseer op 'n enkele aanhaling van die Bybel, moet daar ook op gelet word dat daar nêrens in hierdie gedeelte verwys word na die geregtiges wat na die hemel weggeraap word nie. Christus daal neer uit die hemel voordat die gelowiges hom tegemoet kom. Christus gaan vir ewig regeer op die troon van Dawid, in Jerusalem, en ons sal saam met hom wees hier op aarde. Dit maak eenvoudig nie sin dat ons vir ewig saam met hom sal wees iewers "in die lug" nie. Die lug strek in elk geval net 'n paar kilometers bo die aarde se oppervlak. Dit kan dus nie na die hemel, God se woning, verwys nie.

Die Griekse woorde wat met "weggevoer" vertaal word, beteken wel weggevoer of weggeraap maar dit dui geensins enige rigting aan nie. Die woorde kom ook voor in Levitikus 6:4 en Deuteronomium 28:31 (in die Griekse Ou Testament - Die Septuagint), waar dit die wegraping van goedere tydens 'n diefstal beskryf.

Dit kom ook voor in Handelinge 8:39: "die Gees van die Here (het) Filippus skielik weggevoer, en die hofdienaar het hom nie meer gesien ……….Maar Filippus is in Asdod gevind". Hierdie is die verhaal van hoe Filippus wonderbaarlik verplaas is van een plek na 'n ander.

Met Christus se wederkoms sal die verantwoordelikes versamel word by die oordeelstoel. Ons sal nie gelaat word om ons eie weg soheentoe te vind nie. Dit is dus glad nie onmoontlik dat ons letterlik deur die lug daarheen sal reis nie. Jesus het geleer "in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word….. sal (twee) op die land wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word" (Lukas 17:30,36). Hierdie skep dieselfde beeld van 'n skielike wegraping. Die dissipels het gevra "Waar, Here?". Hy het hulle geantwoord "Waar die liggaam lê, daar sal die aasvoëls saamkom" (Lukas 17:37). Met ander woorde, soos die aasvoël instinktief deur die lug vlieg en dan op die aarde neerdaal waar die karkas lê, net so sal die verantwoordelikes gebring word na die plek waar hulle hul Meester sal ontmoet tydens die oordeel.

Om mee af te sluit moet ons weer die belangrike leerstelling van die oordeelstoel van Christus beklemtoon; die verantwoordelikes moet eers daar verskyn voordat die geregtiges onder hulle beloon sal word. 'n Oppervlakkige lees van 1 Thessalonisense 4:16,17 kan lei tot die verkeerde gevolgtrekking dat al die verantwoordelikes weggeraap sal word in die lug en vir ewig daar sal bly saam met Christus. Die waarheid is egter dat al die verantwoordelikes versamel sal word by die plek van oordeel, moontlik daarheen weggevoer deur die lug, en dan eers sal die geregtiges hul beloning ontvang – die ewige lewe.


  Back
Home
Next