Bybele Beginsels
Studie 4: God En Die Dood
Die Menslike Natuur | Die Siel | Die Gees Van Die Mens | Dood Is Onbewustheid | Die Opstanding | Die Oordeel | Die Plek Van Beloning: Hemel Of Aarde? | Verantwoordelikheid Teenoor God | Hel | Inset (Die Vagevuur, Spoke En Reïnkarnasie, Met Watter Natuur Sal Ons Opgewek Word?, Die Wegraping) | Vrae

4.2 Die Siel

In die lig van die voorafgaande behoort dit ondenkbaar te wees dat die mens, van nature, 'n ‘onsterflike siel’ of enige element van onsterflikheid besit. Ons sal nou poog om die verwarring rondom die woord ‘siel’ op te klaar.

Die Hebreeuse en Griekse woorde wat in die Bybel as ‘siel’ vertaal word, ('nephesh’ en ‘psuche’ onderskeidelik) word ook as volg vertaal: - Lyk (Numeri 9:6) ; Asem (Job 41:12); Lewende wesens (Levitikus 11:46) ; Gemoed (Exodus 23:9) ; Homself (Job 18:4) ; Mens (Numeri 31:19).

Die ‘siel’ verwys daarom na die persoon, die liggaam of die self. Die bekende ‘Save Our Souls’ (S.O.S) beteken dan ook ‘red ons van die dood!’. Die ‘siel’ is dus ‘jy’, of die versameling van alles waaruit 'n mens bestaan. Dit is daarom verstaanbaar dat baie moderne weergawes van die Bybel (bv.die New International Version) selde die woord ‘siel’ gebruik. Dit word eerder vertaal as ‘jy’ of ‘die persoon’.

Die diere wat deur God geskape is word genoem "… al die lewende wesens" (Genesis 1:20,21). Die Hebreeuse woord vertaal as "lewende wesens" is 'nephesh', word ook as siel vertaal, byvoorbeeld in Genesis 2:7 : "So het die mens 'n lewende siel geword". Die mens is dus 'n ‘siel’ net soos die wilde diere ‘siele’ is. Die enigste verskil tussen die mens en die dier is dat die mens verstandelik die diere se meerdere is en dat hy geskep is na die fisiese beeld van God (Genesis 1:26; sien studie 1.2).

Sommige mense word geroep tot die kennis van die Evangelie waardeur die hoop op onsterflikheid aan hulle geopenbaar word (2 Timotheüs 1:10). Wat betref ons fundamentele natuur en die aard van ons dood is daar geen verskil tussen mens en dier nie:- "Want die lot van die mensekinders is ook die lot van die veediere: hulle het een en dieselfde lot (let op die dubbele beklemtoning) : soos die een sterwe, so sterwe die ander, en hulle almal het dieselfde asem, en 'n voorkeur van die mens bo die veediere is daar nie…. Alles (dit is mens en dier) gaan na een plek toe; alles is uit die stof, en alles keer na die stof terug" (Prediker 3:19,20).

Dit is te verstane dat meeste mense dit moeilik vind om hierdie harde feit te aanvaar; dit is inderdaad vernederend om te besef dat ons van nature net soos die diere is, gedryf deur dieselfde instinkte van selfbehoud, oorlewing van die sterkste en voortplanting. Die N.I.V. vertaling van Prediker 3:18 stel dit dat God die mens ‘toets’ deur hom bewus te maak dat hy slegs 'n dier is; dit wil sê die wat nederig genoeg is om deel van Sy ware volk te wees sal die waarheid hiervan besef, maar die wat nie is nie sal in hierdie toets faal. Die filosofie van die humanisme – die idee dat die mens van superieure belangrikheid en waarde is – het stilweg deur die wêreld versprei gedurende die twintigste eeu. Dit is nie 'n maklike taak om ons denke vry te maak van die invloed van die humanisme nie.

Die eenvoudige woorde van Psalm 39:5 sal help: "HERE, maak my einde aan my bekend en wat die maat van my dae is; laat my weet hoe verganklik ek is". Asook: "Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan 'n man om te loop en sy voetstappe te rig nie" (Jeremia 10:23).

Een van die mees basiese begrippe waarvan ons kennis dra is dat alle mense – alle lewende wesens - uiteindelik sterwe. Die ‘siel’ sterf dus: dit is lynreg die teenoorgestelde van iets wat onsterflik is. Dit behoort ook dan geen verrassing te wees dat ongeveer 'n derde van die gebruik van die woord ‘siel’ in die Bybel geassosieer word met die dood en die vernietiging van die siel nie. Die blote feit dat die woord ‘siel’ in hierdie konteks gebruik word dui daarop dat dit nie iets kan wees wat onvernietigbaar en onsterflik is nie:-

  • "Die siel wat sondig, dié moet sterwe" (Esegiël 18:4).

  • God kan die siel vernietig (Mattheüs 10:28). Ander verwysings na siele wat vernietig word is: Esegiël 22:27; Levitikus 23:30.

  • Alle ‘siele’ in die stad Hasor is deur die swaard gedood (Josua 11:11; vergelyk Josua 10:30-39).

  • "….en al die lewende wesens (‘psuche’) in die see het gesterwe" (Openbaring 16:3 vergelyk Psalm 78:50).

  • Die Wet van Moses het deurentyd opdrag gegee dat enige ‘siel’ wat sekere wette oortree, uitgeroei moet word (bv. Numeri 15:27-31).

  • Verwysings na die ‘siel’ wat gestrik en verwurg kan word maak slegs sin as dit verstaan word dat die siel sterflik is: "Die mond van die dwaas is sy ondergang en sy lippe 'n strik vir sy lewe ('nephesh’) (Spreuke 18:7); "sodat jy nie gewend raak aan sy paaie en 'n strik vir jouself ('nephesh’) span nie (Spreuke 22:25); "sodat ek ('nephesh’) die verwurging verkies, die dood meer as hierdie geraamte van my "; (Job 7:15).

  • "..hy wat sy siel nie in die lewe kan hou nie" (Psalm 22:30).

  • Christus het "sy siel uitgestort in die dood" sodat sy "siel", of lewe, as skuldoffer kon dien vir die sonde (Jesaja 53:10,12).

Dat die ‘siel’ verwys na die persoon of liggaam, eerder as 'n onsterflike iets binne ons, word uitgewys deur die meerderheid verse waarin die woord ‘siel’ voorkom. Ooglopende voorbeelde is:-

  • "…..die bloed gevind van die siele…" (Jeremia 2:34).

  • "En as iemand ('nephesh’) sondig dat hy die luid uitgesproke beswering hoor….. of as iemand ('nephesh’) enigiets aanraak wat onrein is …. of as iemand ('nephesh’) sweer terwyl hy onverskillig met die lippe praat" (Levitikus 5:1-4).

  • "Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam! Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade … wat jou siel versadig met die goeie, sodat jou jeug weer nuut word soos dié van 'n arend" (Psalm 103: 1,2,5).

  • "Want elkeen wat sy lewe (‘psuche’=siel) wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe (‘psuche’=siel) om My ontwil en om die evangelie ontwil verloor, hy sal dit red" (Markus 8:35).

  • Hierdie is genoeg bewys dat die siel nie verwys na enige geestelike element binne die mens nie; hier beteken lewe (Grieks ‘psuche’) die mens se fisiese lewe hier op aarde.

  • Numeri 21:4 wys dat 'n groep mense een ‘siel’ kan hê. Die ‘siel’ kan dus nie verwys na 'n element van persoonlike onsterflikheid wat ons almal besit nie.


  Back
Home
Next