Bybele Beginsels
Studie 4: God En Die Dood
Die Menslike Natuur | Die Siel | Die Gees Van Die Mens | Dood Is Onbewustheid | Die Opstanding | Die Oordeel | Die Plek Van Beloning: Hemel Of Aarde? | Verantwoordelikheid Teenoor God | Hel | Inset (Die Vagevuur, Spoke En Reïnkarnasie, Met Watter Natuur Sal Ons Opgewek Word?, Die Wegraping) | Vrae

4.1 Die Menslike Natuur

Baie min mense spandeer genoeg tyd om na te dink oor die dood, die dood se fundamentele oorsaak, en oor hul eie wese en natuur. Hierdie gebrek aan selfondersoek lei noodwendig tot 'n gebrek aan selfkennis, wat op sy beurt daartoe lei dat mense deur die lewe gaan en hul besluite baseer op die ingewing van hul eie natuurlike begeertes. Daar is 'n onderliggende weiering om te erken dat die lewe van korte duur is en dat die finaliteit van die dood onafwendbaar is. "Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar 'n damp wat vir 'n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn". "Want ons moet eenmaal sterwe en soos water wees wat uitgegooi word op die grond, wat 'n mens nie weer kan versamel nie". "In die môre is hulle soos die gras wat weer uitspruit: in die môre bloei dit en spruit weer uit; in die aand sny 'n mens dit af, en dit verdor" (Jakobus 4:14; 2 Samuel 14:14; Psalm 90:5,6). Moses, 'n wel deurdagte man, het dit besef en by God gepleit: "Leer ons om ons dae so te tel dat ons 'n wyse hart mag bekom" (Psalm 90:12). Inderdaad, ons dae is van korte duur, daarom behoort ons eerste prioriteit die vind van ware wysheid te wees.

Die mens se reaksie op die finaliteit van die dood wissel. Sommige kulture probeer om die dood en begrafnisse deel te maak van die daaglikse lewe en sodoende die impak van die verlies, en die finaliteit daarvan te versag. Die meerderheid van die wat die naam ‘Christen’ dra het tot die slotsom gekom dat die mens 'n ‘onsterflike siel’ of 'n element van onsterflikheid besit wat die dood oorleef, en daarna in 'n plek van beloning of straf voortbestaan. Die dood is seker die mees fundamentele probleem en tragedie van menswees. Dit is dus te wagte dat daar vele filosofieë rondom die dood ontwikkel het om die sielkundige impak daarvan te versag.

Om hierdie rede het daar 'n hele reeks vals teorieë ontstaan rakende die dood en omtrent die wesenlike natuur van die mens. Soos altyd moet hierdie teorieë getoets word aan die hand van die Bybel om te bepaal wat die waarheid rondom hierdie lewensbelangrike saak is. Dit is interessant dat die heel eerste leun wat in die Bybel opgeteken staan, die van die slang in die tuin van Eden is.

In teenstelling met God se duidelike verklaring dat die mens ‘sekerlik sal sterwe’ indien hy sondig (Genesis 2:17), het die slang aangevoer "julle sal gewis nie sterwe nie" (Genesis 3:4). Hierdie poging om die finaliteit en totaliteit van die dood te ontken is 'n kenmerk van alle vals gelowe. Dit is veral in hierdie konteks dat een vals leerstelling lei tot 'n volgende, en 'n volgende, en 'n volgende. In teenstelling hiermee lei die waarheid tot 'n volgende waarheid, soos aangetoon word in 1 Korinthiërs 15:13-17. Hier beweeg Paulus vanaf een waarheid tot die volgende (let op die "As …. as ….. as").

Om ons werklike natuur te verstaan moet ons nabetrag oor wat die Bybel leer rondom die skepping van die mens. Dit is in eenvoudige taal, en indien dit letterlik vertolk word, laat dit ons sonder enige twyfel oor wat ons presiese natuur is (sien inset 18 rakende die letterlike vertolking van Genesis). "En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde ……want daaruit (stof) is jy geneem. Want stof is jy (Adam), en tot stof sal jy terugkeer" (Genesis 2:7; 3:19). Hier is absoluut geen aanduiding dat die mens enige inherente onsterflikheid besit nie; daar is geen deel van hom wat sal voort lewe na die dood nie.

Daar is 'n merkbare Bybelse beklemtoning van die feit dat die mens fundamenteel uit stof gevorm is: "Ons is die klei" (Jesaja 64:8); "Die eerste mens was uit die aarde aards" (1 Korinthiërs 15:47); die mens "van wie die grondslag in die stof is" (Job 4:19); "en die mens sou tot stof terugkeer" (Job 34:15). Abraham het ook erken dat hy bloot "stof en as is" (Genesis 18:27). Onmiddellik nadat die mens God se opdrag in Eden oortree het, het God "die mens weggedrywe…….(sodat hy nie sy) hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie" (Genesis 3:24,22). Indien die mens enige onsterflike element van nature besit het, sou hierdie stappe onnodig gewees het.

Voorwaardelike Onsterflikheid

Die deurlopende boodskap van die Evangelie is dat die mens 'n weg kan vind tot die ewige lewe, en onsterflikheid kan bekom, deur die werk van Christus. Hierdie is die enigste tipe onsterflikheid waarvan die Bybel leer. Die idee van 'n ewige bewustelike leiding vir oortredinge is sonder enige Bybelse gronde. Die enigste manier om onsterflikheid te bekom is deur gehoorsaamheid aan God se opdragte. Die wat daaraan gehoorsaam is sal as perfekte wesens onsterflikheid verkry – die beloning vir geregtigheid.

Die volgende aanhalings behoort voldoende bewys te wees dat onsterflikheid voorwaardelik is en nie iets is wat ons, in watter vorm ookal, reeds besit nie:

  • "Jesus Christus, wat die dood tot niet gemaak het en die lewe en die onverderflikheid aan die lig gebring het deur die evangelie" (2 Timotheüs 1:10; 1 Johannes 1:2).

  • "As julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie (d.i. inherent in julleself). Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag" (Johannes 6:53,54). Christus se redenasie regdeur Johannes hoofstuk 6 is dat hy die "brood van die lewe" is, en slegs deur op sy oproep te reageer is daar enige hoop op onsterflikheid (Johannes 6:47,50,51,57,58).

  • "…. dat God ons, die gelowiges, die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy seun" (1 Johannes 5:11). Daar is geen hoop op onsterflikheid vir die wat nie in Christus is nie. Slegs deur Christus is onsterflikheid moontlik; Hy is die "leidsman tot die (ewige) lewe" (Handelinge 3:15) – "’n bewerker van ewige saligheid geword …… vir almal wat gehoorsaam is" (Hebreërs 5:9). Onsterflikheid vir die mens het dus sy oorsprong deur die werk van Christus.

  • Die opregte gelowige soek na onsterflikheid, en sal beloon word hiervoor deur die ewige lewe as geskenk te ontvang – iets wat hy nie van nature besit nie (Romeine 2:7, 6:23; Johannes 10:28).

  • Ons liggame sal "met onsterflikheid beklee word" met die wederkoms van Christus (1 Korinthiërs 15:53); met ander woorde, onsterflikheid is iets wat beloof is en nie nou reeds besit word nie (1 Johannes 2:25). God alleen besit inherente onsterflikheid (1 Timotheüs 6:16).


  Back
Home
Next