Bybele Beginsels
Studie 7: Die Oorsprong Van Jesus
Ou Testamentiese Profesieë Oor Jesus | Die Maagdelike Geboorte | Christus Se Posisie In God Se Plan | "In Die Begin Was Die Woord" (Johannes 1:1-3) | Inset (Die Historiese Jesus, "Ek Het Uit Die Hemel Neergedaal", Het Jesus Die Aarde Geskape?, "Voordat Abraham Was, Is Ek.", Melgisedek) | Vrae

7.2 Die Maagdelike Geboorte

Die verhaal van Jesus se geboorte sluit die moontlikheid dat hy voorheen fisies bestaan het uit. Diegene wat die verkeerde lering van die "drie-enigheid" aanhang, glo dat daar op 'n stadium drie persone in die hemel was.

Een van hulle het toe verdwyn en op 'n manier as 'n fetus in die baarmoeder van Maria verskyn. Dit het toe net twee van die persone van die Godheid in die hemel agtergelaat.

Ons het gesien in die Bybel dat alle bestaan – God ingesluit - 'n bestaan in 'n fisiese, liggaamlike vorm is. Ons moet dus tot die gevolgtrekking kom, op die basis van die "drie-enigheid" lering, dat Christus op een of ander manier fisies na die aarde gekom het en Maria se baarmoeder binnegedring het. Hierdie komplekse teologie is buite die lering van die Skrif. Die verhaal van Jesus se geboorte gee geen rede, wat ookal, dat ons moet dink dat hy fisies die hemel verlaat het om in Maria as baba te ontstaan nie. Die gebrek aan bewyse hiervoor is 'n groot 'vermiste skakel' in die lering van die 'drie-enigheid'.

Die engel Gabriël het aan Maria verskyn met die boodskap :- " En kyk, jy sal swanger word en 'n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie. Toe sê Maria vir die engel: Hoe kan dit wees aangesien ek geen man het nie? En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word" (Lukas 1:31-35).

Twee keer word dit beklemtoon dat Jesus die Seun van God sou word met sy geboorte; uiteraard het die Seun van God nie bestaan voor sy geboorte nie. Weereens moet daar na die verskeie toekomstige verwysings in die teks gelet word. As Jesus alreeds fisies bestaan het toe die engel die boodskap gebring het, sou hy alreeds "groot" gewees het. Jesus was die "nakomeling" van Dawid (Openbaring 22:16); die Griekse 'genos' impliseer dat Jesus uit Dawid 'gegenereer' was.

Die Bevrugting van Maria

Maria het bevrug geraak sonder om gemeenskap met 'n man te hê. Dit was as gevolg van die Heilige Gees (God se krag) wat op haar ingewerk het. Josef was dus nie die werklike vader van Jesus nie.

Dit moet verstaan word dat die Heilige Gees nie 'n persoon is nie (Sien Studie 2). Jesus was nie die Seun van die Heilige Gees nie, maar wel die Seun van God, deur God se inwerking van Sy gees op Maria (Lukas 1:35). Die gebruik van die woord "daarom" impliseer dat Jesus nie sou bestaan het as dit nie was dat die Heilige Gees op Maria ingewerk het nie.

Die feit dat Jesus "bevrug" was in Maria se baarmoeder (Lukas 1:31), is ook 'n bewys dat hy nie voor hierdie tyd kon bestaan het nie. As 'n idee in ons ontstaan, begin dit by ons. So het Jesus ontstaan. Hy het begin as 'n fetus in die baarmoeder van Maria, net soos enige ander menslike wese. Johannes 3:16 vertel dat Jesus die 'eniggebore Seun' van God is. Miljoene mense wat hierdie vers kan opnoem besef nie wat dit eintlik impliseer nie. As Jesus "gebore"was, het hy "ontstaan" ('n woord wat nou verwant hou met 'gebore') toe hy in Maria se baarmoeder ontstaan het. As Jesus God se eniggebore seun is, is dit 'n duidelik bewys dat God ouer as hy is – God het geen begin nie (Psalm 90:2), en dus kan Jesus nie God self wees nie (Studie 8 brei meer uit op hierdie punt).

Dit is beduidend dat Jesus "gebore", eerder as geskape was (soos Adam in die tuin van Eden). Dit verduidelik die noue verhouding wat God met Jesus gehad het (2 Korinthiërs 5:19). Jesaja 49:5,6 is 'n profesie rakende Christus as die lig van die wêreld wat hy in Johannes 8:12 vervul het. Ons lees dat die HERE hom "van die moederskoot af geformeer het om Sy kneg te wees." Christus was dus "geformeer" deur God in Maria se moederskoot, deur die krag van Sy Heilige Gees. Maria se moederskoot was duidelik die plek van Christus se fisiese ontstaan.

Ons het in Studie 7.1 gesien dat Psalm 22 Christus se gedagtes op die kruis voorspel het. Hy het dit bepeins dat God "my uit die moederskoot uitgetrek het . . . van die skoot van my moeder af is U my God" (Psalm 22:10,11). Ten tye van sy dood het Christus teruggekyk na sy oorsprong – in die moederskoot van sy ma Maria, geformeer deur die krag van God. Die blote feit dat die Evangelies vir Maria as Christus se "moeder" beskryf, spreek teen die idee dat Jesus voor sy geboorte bestaan het.

Maria was 'n gewone menslike wese met normale menslike ouers. Dit word bewys deurdat sy 'n niggie gehad het wat geboorte gegee het aan Johannes die doper, 'n gewone man (Lukas 1:36). Die Rooms Katolieke lering dat Maria nie 'n gewone menslike natuur gehad het nie, beteken dat Christus nie beide "seun van die mens" en "seun van God" kon gewees het nie. Hierdie is egter titels wat gereeld van Jesus in die Nuwe Testament gebruik word. Hy is die "seun van die mens" omrede hy 'n geheel en al menslike moeder gehad het, en "seun van God" omdat God hom, d.m.v. Sy wonderbaarlike krag, in 'n maagd verwek het.

Die Evangelies dui telkens Maria se menslikheid aan. Christus het haar ten minste twee keer berispe vir 'n gebrek aan geestelike insig (Lukas 2:49; Johannes 2:4). Sy het nie al sy leringe begryp nie (Lukas 2:50). Dit is juis wat ons sou verwag van 'n vrou met ons natuur wat die moeder van die Seun van God was. Dus sou haar seun meer geestelik as sy wees. Josef het gemeenskap met Maria gehad na Christus se geboorte (Mattheüs 1:25), en daar is geen rede om te vermoed dat hulle nie 'n normale huwelik van toe af gehad het nie.

Die feit dat daar van Christus se "moeder en sy broers" in Mattheüs 12:46,47 melding gemaak word, wys dat Maria nog ander kinders na Jesus gehad het. Jesus was net haar eersgeborene. Die leringe van die Rooms Katolieke dat Maria 'n maagd gebly het en toe na die hemel opgevaar het, is dus glad nie Bybels nie. As 'n menslike wese sou Maria oud geword en gesterf het; boonop lees ons ook nog in Johannes 3:13 dat geen mens nog ooit na die hemel opgevaar het nie. Die feit dat Jesus 'n menslike natuur gehad het (Hebreërs 2:14-18; Romeine 8:3), beteken dat sy ma dit ook moes gehad het aangesien sy Vader (God) dit nie gehad het nie.


  Back
Home
Next