Bybele Beginsels
Studie 6: God En Onheil
God En Onheil | Die Duiwel En Satan | Duiwels | Inset (Toordery, Wat Het In Eden Gebeur?, Lucifer, Die Versoekinge Van Jesus, Oorlog In Die Hemel) | Vrae

Inset 20: Die Versoekinge Van Jesus

" Toe is Jesus deur die Gees weggelei die woestyn in om versoek te word deur die duiwel. En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword. En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word. Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan. Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen 'n klip stamp nie. Jesus sê vir hom: Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie. Weer neem die duiwel Hom saam na 'n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid, en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid. Toe sê Jesus vir hom: Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien. Daarna het die duiwel Hom laat staan, en daar het engele gekom en Hom gedien" (Mattheüs. 4:1-11).

Die Algemene Interpretasie:

Hierdie gedeelte word gesien as 'n wese, die "duiwel", wat vir Jesus versoek het om te sondig deur sekere dinge aan hom voor te stel en hom in situasies van versoeking te lei.

Kommentaar:-

  1. Jesus is "in alle opsigte versoek net soos ons" (Hebreërs 4:15), en: "elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word" (Jakobus 1:14). Ons word versoek deur die "duiwel", m.a.w. ons eie begeerlikheid, of sondige begeertes, en so was Jesus. Ons word nie versoek deur 'n goddelose wese wat skielik langs ons staan en ons aanhits om te sondig nie - sonde en versoeking kom "van binne, uit die hart van die mens" (Markus 7:21).

  2. Die versoekinge kon nie letterlik gewees het nie:-

  • Mattheüs 4:8 impliseer dat Jesus na 'n hoë berg gelei is om al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid te aanskou. Daar is geen berg hoog genoeg om die hele wêreld te sien nie en boonop is die aarde 'n sfeer - mens kan van geen punt af die wêreld op een slag sien nie.

  • 'n Vergelyking tussen Mattheüs 4 en Lukas 4 wys dat die versoekinge in 'n verskillende orde beskryf is. Markus 1:13 sê dat Jesus veertig dae in die woestyn was, waar hy deur die Satan versoek is, terwyl ons in Mattheüs 4:2-3 lees dat "nadat hy veertig dae en veertig nagte gevas het .... die versoeker (Satan) na hom gekom het".

Omdat die Skriftuur homself nie kan weerspreek nie, kan ons aflei dat hierdie versoekinge hulle self herhaal het. Die versoeking om klippe in brood te verander is 'n duidelike voorbeeld. Die versoekinge het in Jesus se gedagtes plaasgevind. Omdat hy ons natuur gehad het, sou die gebrek aan kos hom geestelik sowel as fisies affekteer het, en sou hy hom maklik dinge kon begin verbeel. 'n Lang tyd sonder kos kan lei tot ylhoofdigheid (vergelyk 1 Samuel 30:12). Die ooreenkoms tussen brood en klippe word genoem deur Jesus in Mattheüs 7:9, en hulle kon maklik in sy toestand verwar word. Maar hy het altyd beheer behou deur die Woord in herinnering te bring.

  • Jesus het heel waarskynlik die gebeure tydens sy versoekinge oorvertel aan die Evangelieskrywers, en om die intensiteit van wat hy deurgemaak het te beklemtoon kon hy die figuurlike benadering gebruik het wat ons sien in Mattheüs 4. en Lukas 4.

  • Dis onwaarskynlik dat die duiwel vir Jesus deur die woestyn en deur die strate van Jerusalem gelei het, en dat hulle toe saam op die dak van die tempel gaan staan het, alles voor die oë van nuuskierige Jode. En as hierdie versoekinge verskeie kere plaasgevind het in die veertig dae, sowel as aan die einde van daardie periode (wat ten minste twee keer was, aangesien Mattheüs en Lukas hulle in verskillende volgorde plaas), hoe sou Jesus tyd gehad het om na die naaste hoë berg (wat Hermon sou wees in die verre noorde van Israel) te gaan, dit uit te klim, na die woestyn terug te keer, en dan die hele proses weer te herhaal ? Sy versoekinge het almal in die woestyn plaasgevind - hy was daar vir veertig dae, deurentyd deur die duiwel versoek (wat hom slegs aan die einde laat staan het - Mattheüs 4:11). As Jesus elke dag deur die duiwel versoek was, en die versoekinge in die woestyn plaasgevind het, dan volg dit dat Jesus nie die woestyn kon verlaat om Jerusalem toe te gaan of om na 'n hoë berg te reis nie. Hierdie dinge kon dus nie letterlik gebeur het nie.

  • As die duiwel 'n fisiese persoon is wat geen respek vir God se Woord het nie en wat daarop uit is om mense te laat sondig, hoekom het Jesus dan vir hom Skriftuur aangehaal om hom te oorwin? Volgens die algemene beskouing sal dit nie die duiwel weg stuur nie. Let op dat Jesus elke slag 'n teksgedeelte uit die Bybel aangehaal het.

As die duiwel die verkeerde begeertes in Jesus se hart was, dan is dit verstaanbaar dat, deur die Woord in sy hart te hê en homself daaraan te herinner, hy hierdie verkeerde begeertes kon oorwin. Psalm 119:11 is so van pas dat dit dalk 'n spesifieke profesie van Christus se ondervindinge in die woestyn is: "Ek het u woord in my hart gebêre dat ek teen U nie sal sondig nie".

  • Mattheüs 4:1 sê dat Jesus "deur die Gees weggelei (is), die woestyn in, om versoek te word deur die duiwel". Dit was die Gees van God wat hy kort tevore ontvang het (Mattheüs 3:16). Dit is ondenkbaar dat die Gees van God vir Jesus die woestyn in gelei het om deur 'n bomenslike wese, wat in opposisie teen God staan, versoek te word.

Voorgestelde Verklarings:-

  1. Toe Jesus in die Jordaan deur Johannes gedoop is, het hy die krag van die Heilige Gees ontvang (Mattheüs 3:16). Onmiddellik toe hy uit die water kom, is hy die woestyn in gelei om versoek te word.

  2. Omdat hy geweet het dat hy die mag het om klippe in brood te verander, van geboue af te spring sonder om seer te kry, ens., moes hierdie versoekinge in sy gedagtes gewoed het. As dit 'n persoon was wat hierdie dinge voorgestel het, en Jesus het geweet dat dit 'n sondige persoon was, dan sou die versoekinge baie minder subtiel gewees het as wat hulle sou wees as hulle van sy eie gedagtes gekom het.

  3. Die versoeking om die koninkryk vir homself te neem sou baie sterker wees as dit van binne Christus gekom het. Jesus se gedagtes sou vol van die Skriftuur wees, en in sy geteisterde toestand, veroorsaak deur die feit dat hy nie geëet het nie, sou dit 'n versoeking wees om skrifgedeeltes verkeerd te vertolk, en hulle te gebruik as regverdiging vir 'n maklike manier om uit die situasie waarin hy was, te kom. Dit word beklemtoon in Daniël (4:17, 25, 32; 5:21) dat "die allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil"; Jesus sou geweet het dat net God, en niemand anders nie, vir hom die koninkryk kon gee.

  4. Dit sou dus nie veel van 'n versoeking wees as 'n goddelose monster daarop aanspraak gemaak het dat hy vir Jesus die koninkryk kon gee nie. Christus het goed geweet dat net God daardie mag het. Jesus het egter geweet dat dit sy Vader se goeie wil was om vir hom, Jesus, die koninkryk te gee, en dit moes deur die "duiwel" binne Jesus gesuggereer wees dat hy die koninkryk onmiddellik kon ontvang. Jesus kon redeneer dat God in elk geval alle gesag aan hom gaan gee (Johannes 5:26,27), so hy kon net sowel nou die Koninkryk vestig.

  5. Omdat hy so bekend was met die Skriftuur, sou Christus die ooreenkoms tussen homself en Elia, wie se veggees na 40 dae in die woestyn ingegee het (1 Konings 19:4-8) en Moses, wat sy onmiddellike erfenis van die land na 40 jaar in die woestyn verbeur het, gesien het. Jesus was na 40 dae in 'n soortgelyke posisie as hulle - hy het 'n werklike moontlikheid van mislukking in die gesig gestaar. Moses en Elia het gefaal oor menslike swakheid - nie as gevolg van 'n persoon wat "die duiwel" genoem word nie. Dit was hierdie selfde menslike swakheid, die "Satan" of teëstander, wat vir Jesus versoek het.

  6. "Toe sê die duiwel vir Hom: As U die Seun van God is ......" (Lukas 4:3). Dit moes 'n aanhoudende versoeking in Christus se gedagtes wees om te wonder of hy regtig die Seun van God was, aangesien almal gedink het dat hy die seun van Josef was (Lukas 3:23; Johannes 6:42). Hy was die enigste mens wat nie 'n menslike pa gehad het nie.

  7. Die versoeking is deur God vir Christus se geestelike groei daargestel. Die gedeeltes wat deur Jesus aangehaal word om homself te versterk teen sy sondige begeertes ("duiwel"), is almal van dieselfde deel van Deuteronomium, wat betrekking het op Israel se ondervindinge in the woestyn. Jesus het 'n duidelike parallel tussen sy ondervindinge en hulle s'n gesien:-

Deuteronomium 8

Mattheüs 4 / Lukas 4

Vers 2
"En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie. "


"Jesus deur die Gees weggelei", "veertig dae", "in die woestyn". Jesus het homself bewys deur die versoekinge. Hy het oorwin deur die Skriftuur wat in sy hart was, aan te haal (Psalm 119:11).

Vers 3
"En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan".


"Hy het naderhand honger geword". In Johannes 6 word manna vertolk deur Jesus as verteenwoordigend van die Woord van God - waarvan Jesus geleef het in die woestyn. Jesus het geleer dat hy geestelik deur die Woord van God geleef het. "Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan" (Mattheüs 4:4).

Vers 5
"Erken dan in jou hart dat die HERE jou God jou onderrig soos 'n man sy seun onderrig,"


Jesus het diep oor sy ondervindinge nagedink. God het sy Seun, Jesus, onderrig - 2 Sam. 7:14; Psalm 89:33.

So het Jesus dan vir ons gewys hoe om die Woord te lees en te bestudeer - hy het homself in die posisie van Israel in die woestyn ingedink, en het die lesse wat uit hulle ervaring geleer kan word op homself in sy beproewinge toegepas.


  Back
Home
Next