Bybele Beginsels
Studie 6: God En Onheil
God En Onheil | Die Duiwel En Satan | Duiwels | Inset (Toordery, Wat Het In Eden Gebeur?, Lucifer, Die Versoekinge Van Jesus, Oorlog In Die Hemel) | Vrae

Inset 17: Toordery

Hierdie onderwerp word behandel om grotendeels die in Afrika en ook ander dele van die wêreld, waar toordery 'n algemene verskynsel in die alledaagse lewe is, te help. Dit word aangeneem deur alle ware Bybelstudente dat toevlug tot hekse, toordokters of geeste onaanvaarbaar is. Maar ek besef dat toordokters dikwels goedkoper en meer toeganklik is as mediese dokters en dat dit, tesame met hulle oënskynlike sukses, vir hulle 'n meer aantreklike alternatief maak. Ons moet die probleem vanuit 'n logiese, Bybelse oogpunt beskou. Dit is die enigste manier wat ons die krag sal vind om die versoeking te weerstaan om hierdie mense te gebruik.

Die Aanspraak van Toordery.

Eerstens moet die aansprake op sukses wat hierdie hekse maak, ontleed word. Ons kan seker wees dat hulle baie oordryf. Hulle genesing word nooit openlik gedoen sodat almal dit kan sien nie. As hulle regtig suksesvol was, sou hulle in hospitale oor die hele wêreld gewerk het.

Die presiese toestand van die wat hulle sê hulle genees, word ook nooit bekend gemaak nie – hoeveel hulle toestand verbeter is nooit duidelik nie. Mense wat met hierdie versoeking worstel moet hulleself vra of hulle definitiewe bewyse het van die toordokter se krag. Bv. het jy gesien (nie net gehoor nie) dat 'n man wat sy arm in 'n saagmeul verloor het, en nadat hy by die toordokter was, terugkeer met 'n nuwe arm wat perfek werk?

Dit is die soort bewys wat ons moet hê voor ons vir hulle enige geloofwaardigheid kan gee. Deuteronomium 13:1-3 is nog kragtiger : Israel is geleer dat as 'n heks 'n teken of wonder verrig wat lyk asof dit 'n wonderwerk kan wees, hulle steeds nie daardie persoon moet glo tensy hy of sy die ware lering volgens God spreek nie. Dit is duidelik dat toordokters nie die waarheid, soos geopenbaar in die Bybel, glo nie – derhalwe moet ons nie in die versoeking kom om te glo dat hulle regtig mag het nie, aangesien alle krag en mag slegs van God is (Romeine 13:1 ; 1 Korinthiërs 8:4-6).

Tweedens is die tipe klagtes waarmee hulle handel insiggewend. Die mens gebruik maar sowat 1 % van sy brein-krag. Dit wil voorkom asof dit buite ons mag is om bewustelik die res aan te wend (iets wat ons sonder twyfel in die Koninkryk sal doen). Sonder om dit te besef, kan ons verstand, ons denke, 'n amper fisiese uitwerking op ons liggame hê. So kan psigiaters (wat die verstand bestudeer) mense genees wat aan bloed siektes ly deur hulle te kry om intens te glo dat hulle bloed normaal word en behoorlik werk. Dokters gee toe dat daar nou en dan sulke genesing plaasvind sonder gewone medisyne. Net so kan spanning tot maag-swere en hoofpyne lei. Deur ons gedagtes te ontspan of op 'n sekere manier te oefen, kan ons die kwale laat verdwyn. Maar as ons arm byvoorbeeld in 'n saagmeul afgesny word, sal geen geestelike poging dit weer laat terugkom nie.

Toordokters kan slegs 'n uitwerking hê op kwale wat deur ons denke beheer word. Omdat ons nie ten volle begryp hoe ons verstand werk nie, lyk dit vir ons asof hierdie toordokters een of ander fisiese mag het. Maar dit is nie so nie; dit is die invloed op mense se denke wat hierdie effek tot gevolg het.

Die Bron van Krag

Die feit is dat alle krag van God kom. Goeie sowel as slegte dinge soos siektes kom van Hom af – nie hekse of toordokters nie. Hierdie is 'n baie algemene tema in die Skriftuur – Jesaja 45:5-7 ; Miga 1:12 ; Amos 3:6 ;Eksodus 4:11 ; Deuteronomium 32:39; Job 5:18. Dit sal beslis die moeite werd wees om elkeen van hierdie gedeeltes sorgvuldig te lees. Dit volg dus dat dit na God is wat ons ons moet wend in gebed as ons siek is, terwyl ons alles doen wat menslik moontlik is deur die gebruik van medisyne, om die probleem reg te maak. As ons toordokters toe gaan, wend ons ons na mense wat beweer dat hulle beheer het oor 'magte van duisternis' wat hulle in staat stel om ons te genees. Maar ons weet dat die magte waarin hulle glo nie bestaan nie. God is die bron van mag. Om ons tot toordokters te wend is om te glo dat God nie almagtig is nie en dat dit nie Hy is wat siekte op ons bring nie maar ander magte, wat toordokters beweer hulle kan beïnvloed.

Om so te dink maak ons vir God baie ontevrede, want Hy weet dat Hy die siekte gebring het en dat Hy almagtig is. Israel het in God geglo, maar hulle het ook geglo dat daar ander magte was wat in hulle lewens gewerk het, en hulle het afgode, wat vir hierdie magte gemaak is, aanbid. Dit het vir God so kwaad gemaak dat Hy hulle verwerp het. Tensy ons nie algehele geloof in Hom het nie, is dit vir God asof ons glad nie in Hom glo nie. Om te sê dat ons in die ware God van Israel glo, maar terselfde tyd die bestaan van ander magte apart van God aanvaar, en as ons toelaat dat 'n toordokter hierdie magte probeer beïnvloed om vir ons te help, is om presies soos Israel van ouds te handel. Die lang, tragiese geskiedenis van Israel se verafgoding is opgeteken sodat ons daaruit kan leer. Ons moet niks te doen hê met die wat in sulke magte glo nie. "Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem;" (2 Korinthiërs 6:14-17).

As ons regtig die poging en die opoffering maak om onsself van hierdie dinge af te sonder, dan het ons die wonderlike versekering dat ons regtig die kinders van God is. 'n Natuurlike ouer is instinktief besorg as sy kind siek is. Is dit regtig so moeilik om te glo dat ons Hemelse Vader nog meer so sal wees? Dit is 'n feit dat hekse en toordokters net invloed het oor die wat in hulle glo. So kan iemand wat 'n geliefde verloor het miskien na 'n medium toe gaan en vra om die dooie persoon te sien. Die medium sal vir hulle sê om hulle oë toe te maak en om hulle voor te stel dat hulle die gesig van die persoon duidelik sien. Die kliënt kan dan dalk op 'n foto van die oorledene konsentreer wat hy baie goed onthou. Die medium kan dan so van die dooie praat dat die kliënt glo hy lewe. Maar onthou, daar is nooit onteensegtelike bewys dat die persoon wel lewe nie.

Die towernaars wat vir Farao en Nebukadneser hulle drome uitgelê het, sou nooit hulle posisies beklee het as hulle nie redelik suksesvol was nie. Hulle het sonder twyfel hierdie tegniek van 'gedagte lees' dikwels gebruik. Maar wanneer God betrokke geraak het, het hulle hierdie vermoë verloor.

Net so het Balak geglo in Bileam se vermoë om mense te vervloek – hy het vir hom 'n groot som geld geoffer vir sy dienste en gesê :- "die een wat jy vervloek, is vervloek" (Numeri 22:6). Maar Bileam, wat op 'n manier 'n soort toordokter was, het gevind dat sy normale vermoë hom verlaat het toe hy met die mense van Israel te doen gehad het.

Towery in die Bybel

Prakties beteken dit dat as ons 'n toordokter wil besoek, ons algehele geloof in hom moet hê. En as ons dit doen, beteken dit dat ons nie in die almag van die ware God glo nie. Paulus praat van towery as "werke van die vlees", in dieselfde kategorie as afgodery, owerspel en hoerery (Galasiërs 5:19-21). SY kommentaar is dat "die wat sulke dinge doen, die Koninkryk van God nie sal beërwe nie."

Vroeër, onder die Wet van Moses, was die opdrag dat alle hekse, of enig-iemand wat met towery te doen gehad het, of die wat hulle kinders deur die vuur laat gaan het, summier moes sterf (Deuteronomium 18:10-14 ; Eksodus 22:18). Ons moet dus ver wegbly van goëlaars en waarsêers en mediums wat dooies raadpleeg. Om vir God te beledig soos die Israeliete gedoen het deur hulle geloof in afgode en towery (Deuteronomium 32:16-19), is ondenkbaar.


  Back
Home
Next