Bybele Beginsels
Studie 8: Die Natuur Van Jesus
Die Natuur Van Jesus: Inleiding | Verskille Tussen God En Jesus | Jesus Se Natuur | Die Menslikheid Van Jesus | Die Verwantskap Van God Met Jesus | Inset ("Wat In Die Gestalte Van God Was") | Vrae

8.2 Verskille Tussen God En Jesus

Daar is 'n fyn lyn tussen die Skrifgedeeltes wat verwys na "God in Christus" en die wat Jesus se mensheid beklemtoon. Laasgenoemde groep maak dit onmoontlik om Skriftuurlik te bewys dat Jesus God is soos die leer van die drie-eenheid verkeerdelik verklaar. (Hierdie uitdrukking is gebruik by die Raad van Nicea in 325 AD, waar die idee dat God 'n drie-eenheid is vir die eerste keer bekend gemaak is; die vroeë Christene het nie van so iets geweet nie). Die woord "drie-eenheid" kom nêrens in die Bybel voor nie. Studie 9 sal dieper ingaan in Christus se totale oorwinning oor die sonde, en God se deel daarin. Soos ons nou met hierdie studies begin, laat ons onthou dat ons saligheid daarvan afhang dat ons die korrekte begrip het van die regte Jesus Christus (Johannes 3:36; 6:53; 17:3). As ons eers sy oorwinning oor die sonde en die dood behoorlik verstaan, kan ons in hom gedoop word om in hierdie verlossing te deel.

Een van die duidelikste opsommings van die verhouding tussen God en Jesus word in 1 Timotheüs 2:5 gevind : "Daar is EEN God en een middelaar tussen God en die mense, die MENS Christus Jesus." As ons mooi dink oor die woorde wat beklemtoon is, sal ons tot die volgende gevolgtrekkings kom:-

  • Omdat daar net EEN God is, is dit onmoontlik dat Jesus God kan wees; as die Vader God is en Jesus is ook God, dan is daar twee Gode. "Tog is daar vir ons maar een God, die Vader" (1 Korinthiërs. 8:6). "God die Vader" is derhalwe die enigste God. Dit is dus onmoontlik dat daar 'n aparte wese is, wat "God die Seun" genoem word, soos die valse leer van die drie-eenheid verklaar. Net so word Yahweh in die Ou Testament uitgebeeld as die een God, die Vader (bv. Jesaja 63:16; 64:8).

  • Saam met hierdie een God is daar 'n middelaar, die mens Christus Jesus - ". . . en een middelaar". Die woord "en" dui 'n verskil tussen Christus en God aan.

  • Die feit dat Christus die "middelaar" is, beteken dat hy 'n tussenganger is. 'n Middelaar tussen die sondige mens en God wat sondeloos is, kan nie sondelose God Homself wees nie; dit moes 'n sondelose mens wees, van sondige menslike natuur.

  • "Die mens Christus Jesus" laat geen twyfel oor hierdie verduideliking nie. Selfs al het Paulus na die opvaring van Jesus geskryf, praat hy nie van "die God Christus Jesus" nie.

  • Ons word verskeie kere herinner daaraan dat "God nie 'n mens is nie" (Numeri 23:19 ; Hos. 11:9); tog is dit baie duidelik dat Christus "die Seun van die mens" was omdat hy dikwels "die mens Christus Jesus" in die Nuwe Testament genoem word. In Lukas 1:32 was hy "die seun van die Allerhoogste". Omdat God die "Allerhoogste" is, wys dit dat slegs Hy hierdie posisie het; Jesus as "die Seun van die Allerhoogste", dui aan dat hy nie God in persoon kon wees nie. Die blote taal van Vader en Seun wat gebruik word van God en Jesus maak dit duidelik dat hulle nie dieselfde kan wees nie. 'n Seun kan wel sekere ooreenkomste met sy vader hê, maar hy kan nie een en dieselfde persoon wees, of so oud soos sy vader wees nie.

In lyn hiermee is daar 'n aantal ooglopende verskille tussen God en Jesus, wat baie duidelik wys dat Jesus nie God was of is nie:-

GOD

JESUS

"God kan deur die kwaad nie versoek word nie" (Jakobus 1:13).

Christus was "in alle opsigte versoek net soos ons" (Hebreërs 4:15).

God kan nie sterf nie - Hy is onsterflik van natuur (Psalm 90:2 ; 1 Timotheüs 6:16).

Christus was dood vir drie dae (Mattheüs 12:40 ; 16:21).

God kan nie deur 'n mens gesien word nie (1 Timotheüs 6:16 ; Eksodus 33:20).

Mense het vir Jesus gesien en hom aangeraak (1 Johannes 1:1 beklemtoon dit).

Wanneer ons versoek word, het ons 'n keuse van twee dinge; ons sondig of ons is gehoorsaam aan God. Ons verkies dikwels ongehoorsaamheid aan God; Christus het dieselfde keuses gehad, maar het gekies om altyd gehoorsaam te wees.

Hy het dus die moontlikheid gehad om te sondig, alhoewel hy dit nooit gedoen het nie. Dit is ondenkbaar dat God enigsins kan sondig. Ons het gewys dat die nakomeling van Dawid wat in 2 Samuel 7:12-16 belowe is, definitief Christus was. Vers 14 praat van die moontlikheid daarvan dat Christus kon sondig : "As hy verkeerd handel (sal) ek hom straf."


  Back
Home
Next