Bybele Beginsels
Studie 1: God
God Se Bestaan | God Se Persoonlikheid | God Se Naam En Karakter | Die Engele | Inset ("God Is Gees" (Johannes 4:24), Die Gebruik Van God Se Naam., God Manifestasie.) | Vrae

1.2 God Se Persoonlikheid

Dit is 'n wonderlike tema van die Bybel dat God openbaar word as 'n regte, tasbare persoon, met 'n liggaamlike bestaan. Dit is ook 'n fundamentele leerstelling van die Christendom dat Jesus die Seun van God is. As God nie 'n liggaamlike wese is nie,dan is dit onmoontlik vir Hom om 'n Seun te hê wat "die afdruksel van sy wese" is (Hebreërs 1:3). Dit word dan moeilik om 'n persoonlike, lewende verhouding met God te hê as "God" net 'n abstrakte konsep in ons gedagtes is, 'n gees êrens in die lug. Dit is tragies dat so baie kerke hierdie onwerklike, onaantasbare begrip van God het.

Omdat God so oneindig groter as ons is, is dit verstaanbaar dat baie mense die duidelike belofte dat ons eendag vir God sal sien, nie kan aanvaar nie. Dat God 'n vorm of gedaante het, is baie duidelik (Johannes 5:37). So 'n oortuiging kom van 'n kennis van God en 'n geloof dat Sy Woord waar is: "Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien" (Mattheüs 5:8). "(God) se diensknegte sal Hom dien . En hulle sal sy aangesig sien" (Openbaring 22:3,4). So 'n wonderlike hoop, as ons dit regtig glo, sal 'n diepgaande, praktiese effek op ons lewens hê: "Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie" (Hebreërs 12:14). "Wie sweer by die hemel, sweer by die troon van God en by Hom wat daarop sit" (Mattheüs 23:22) . Hierdie woorde maak geen sin as God nie 'n liggaamlike wese is nie . "Ons sal Hom sien soos Hy is (gemanifesteer in Christus). En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is" (1 Johannes 3:2,3).

In hiedie lewe is ons begrip van die Hemelse Vader baie onvolledig, maar ons kan uitsien daarna om Hom wel eendag te ontmoet. En wanneer ons Hom dan fisies sien sal ons 'n veel beter begrip van Hom hê. So kon Job, in die absolute dieptes van menslike lyding, hom verheug in die totale persoonlike verhouding met God wat hy eendag ten volle sal ervaar: "En nadat hulle so my vel afgeskeur het,(die dood) sal ek nogtans uit my vlees God aanskou; Hom wat ek sal aanskou my ten goede, en my oë - en geen vreemde nie - sal sien" (Job 19:26,27). Die apostel Paulus, wat 'n lewe van pyn en swaarkry gehad het, kon sê: "Nou sien ons deur 'n spieël in 'n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig" (1 Korinthiërs 13:12).

BEWYSE IN DIE OU TESTAMENT

Hierdie beloftes in die Nuwe Testament word bevestig deur bewyse van 'n persoonlike, liggaamlike God in die Ou Testament. Dit kan nie genoeg beklemtoon word dat daar 'n fundamentele besef van God se natuur moet wees, as ons 'n ware begrip van Hom wil hê nie. Die Ou Testament praat aanhoudend van God as 'n persoon; die persoon-tot-persoon verhouding met God waarvan beide die Ou en die Nuwe Testament praat, is uniek aan die ware Christen-hoop. Hier volg sterk argumente ten gunste van 'n persoonlike, liggaamlike God: "En God het gesê: Laat ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis" (Genesis 1:26). So is die mens gemaak in die beeld en gelykenis van God, soos gemanifesteer deur die engele. Jakobus 3:9 praat van "mense wat na die gelykenis van God gemaak is".

Hierdie woorde kan nie verwys na 'n mens se verstandelike beeld nie, want van nature is ons gedagtes ver van God s'n, en in baie opsigte in stryd met Sy geregtigheid: "Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE.Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes" (Jesaja 55:8,9). Derhalwe moet die beeld en gelykenis wat ons met God deel, 'n fisiese beeld wees.

Elke keer wanneer Engele op aarde gesien was, word hulle beskryf as menslike gestaltes - so het Abraham drie manne voor hom sien staan (Genesis 18:2). Hy het gedink dat dit gewone mans was. Die feit dat ons in God se beeld geskape is sê vir ons iets van die Wese waarvan ons maar 'n beeld is. Dus is God, vir wie ons weerspieël, nie iets vaag wat ons glad nie kan begryp nie.

Die Engele self is 'n weerspieëling van God. So kon God van Moses sê: "Mond tot mond spreek Ek met hom, en deur aanskouing en nie deur duister woorde nie; en hy sien die verskyning van die HERE "(Numeri 12:8). Hier word verwys na die opdragte wat Moses ontvang het van 'n Engel wat God se naam gedra het (Eksodus 23:20,21). As hy die Engel gesien het as die verskyning van die HERE, volg dit dat God dieselfde gedaante of vorm as die Engele het - d.w.s. in fisiese menslike gedaante, maar met 'n oneindig groter natuur as vlees en bloed. Die HERE het met Moses van aangesig tot aangesig gespreek, soos 'n man met sy vriend spreek (Eksodus 33:11; Deuteronomium 34:10). Die Here was gemanifesteer (geopenbaar) in Sy Engel, wie se gesig en mond self 'n weerspieëling van God was.

"Hy (God) weet watter maaksel ons is " (Psalm 103:14). Hy wil hê ons moet Hom sien as 'n persoonlike wese, 'n Vader met wie ons 'n verhouding kan hê. Dit sal verklaar hoekom daar so baie verwys word na God se hande, arms, oë, ens. As God 'n vae,onaantasbare wese êrens in die hemelruim is - en dit is wat Hy moet wees as ons die feit dat Hy 'n persoonlike wese is verwerp - dan is al hierdie verwysings misleidend en dien hulle geen doel nie.

Beskrywings van God se woonplek is duidelike bewyse dat God 'n spesifieke ligging het waar Hy bly: "God is in die hemel" (Prediker 5:1); "omdat Hy van sy hielige hoogte neergesien het, die HERE uit die hemel op die aarde gelet het" (Psalm 102:20); "Hoor in die hemel, u vaste woonplek" (1 Koninigs 8:39).

En nog meer spesifiek, lees ons dat God 'n "troon" het (2 Kronieke 9:8; Psalm.11:4; Jesaja 6:1; 66:1). Dis baie moeilik om sulke taal te gebruik van 'n ongedefineerde wese wat êrens in die hemelruim bestaan. Ons lees dat God sal "neerdaal" wanneer Hy Homself gaan openbaar. Dit dui daarop dat God in 'n Hemelse ligging is. Dit is onmoontlik om die konsep van "God openbaarmaking" (manifestasie) te verstaan, sonder om te aanvaar dat God 'n persoonlike, liggaamlike bestaan het .

Jesaja 45 is vol verwysings deur God na Sy persoonlike betrokkenheid in die sake van Sy mense: "Ek is die HERE, en daar is geen ander nie ….Ek, die HERE, het dit geskape—Wee hom wat met sy Formeerder twis ….Ek - my hande het die hemel uitgespan ….Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde!" Hierdie laaste sin wys veral vir ons dat God 'n persoonlike bestaan het - Hy wil hê dat mense hulle na Hom wend, en Sy letterlike bestaan met 'n gelowige oog aanskou. God word vir ons openbaar as 'n God van vergifnis, wat met mense praat met woorde. Tog kan vergifnis en spraak net van 'n persoon kom : dit verg verstand om hierdie dinge te kan doen. So was Dawid 'n man na God se hart (1 Samuel .13:14), wat wys dat God 'n intellek (hart) het, iets wat tot 'n beperkte mate deur die mens weergee kan word, alhoewel die mens van nature nie na God se hart is nie.

Woorde soos "Dit het die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart" (Genesis. 6:6), wys dat God 'n Wese is met bewustheid en gevoel, eerder as 'n abstrakte Geesdamp in die atmosfeer. Ons sien dus dat ons vir God regtig kan behaag en kwaad maak, soos 'n kind sy natuurlike vader.

AS GOD NIE PERSOONLIK IS NIE….

As God nie 'n regte, persoonlike wese is nie, dan is die begrip van geestelikheid moeilik om te aanvaar. As God heeltemal regverdig is, maar nie 'n liggaamlike wese is nie, kan ons nie regtig die openbaring van Sy regverdigheid as menslike wesens begryp nie.

Beide die afvallige Christendom, en die Jodedom het die idee dat God se regverdigheid ons lewens binnekom deur 'n vae "heilige gees", sodat ons op een of ander manier Sy geestelike beeld weergee, en so deur Hom aanvaar word. As ons eers besef dat daar 'n persoonlike wese is wat God genoem word, kan ons werk aan ons eie karakters om met Sy hulp en die invloed van Sy woord, God se karaktertrekke in ons lewens te weerspieël .

God se doel is om Homself te openbaar in 'n menigte verheerlikte wesens. Sy gedenknaam, YAHWEH ELOHIM, dui dit aan. Die naam beteken "Hy wat magtiges sal wees." As God nie 'n persoonlike wese is nie, dan is die beloning van die getroues 'n nie-fisiese bestaan. Maar die beskrywings van die beloning van die getroues in God se komende Koninkryk op aarde wys dat hulle 'n tasbare, liggaamlike bestaan sal hê wat nie meer onderworpe aan die swakheid van die menslike natuur sal wees nie.

Job het uitgesien na die dag wanneer sy liggaam uit die stof sal opstaan (Job 19:25-27). Abraham moet een van die wees wat "in die stof van die aarde slaap(en ) sal ontwaak ..tot die ewige lewe" (Daniël 12:2), sodat hy die belofte van 'n ewige erfenis van die land Kanaän kan ontvang - 'n fisiese plek op hierdie aarde (Genesis 17:8)."Sy gunsgenote sal vrolik jubel……laat hulle jubel op hul bedde……om wraak te oefen onder die heidene" (Psalm 132:16; 149:5,7). Gedeeltes soos die, sowel as die letterlike en fisiese aspek van die beloftes aan Abraham, word deur beide Jood en nie-Jood misgekyk, en dit het gelei tot die verkeerde gedagte dat die mens 'n "onsterflike siel" is.So 'n idee het absoluut geen Bybelse steun nie.

God is 'n onsterflike, glorieryke wese, en Hy werk aan Sy doel om mans en vrouens te roep om in Sy toekomstige Koninkryk op hierdie aarde te lewe en om in Sy eienskappe, geopenbaar in 'n liggaamlike vorm, te deel. Die getroues word belowe dat hulle deelgenote van God se natuur sal word (2 Petrus 1:4).As God nie persoonlik is nie, dan beteken dit dat ons vir ewig sal lewe as onstoflike geeste. Maar dit is nie wat die Bybel leer nie.

Ons sal 'n liggaam gegee word soos die van Jesus (Fillippense 3:21), en ons weet dat hy 'n letterlike liggaam in die Koninkryk sal hê, met hande, oë en ore (Sagaria 13:6; Jesaja 11:3). Die lering van die persoonlikheid van God is derhalwe gekoppel aan die Evangelie van die Koninkryk. Dit moet nou duidelik wees dat daar geen ware konsep van aanbidding, godsdiens of 'n persoonlike verhouding met God kan wees nie tensy ons verstaan dat God wel persoonlik is en dat ons Sy fisiese beeld weerspieël.

Soveel meer sin en bemoediging kan nou verkry word van verse wat praat van God as 'n liefdevolle Vader ,wat ons onderrig soos 'n vader sy seun onderrig (bv.Deuteronomium 8:5). In die konteks van Christus se lyding lees ons " dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel" (Jesaja 53:10), alhoewel hy "tot God geroep het om hulp; my hulp geroep het in sy ore gekom " (Psalm 18:7). God se belofte aan Dawid dat een van sy nageslag God se seun sou wees, het die wonderbaarlike geboorte van 'n mens geverg ; as God nie persoonlik was nie, sou Hy nie so 'n seun kon hê nie.

'n Korrekte begrip van God is 'n sleutel wat soveel ander belangrike areas van Bybellering ontsluit . Maar soos een leun tot 'n ander lei, so vertroebel 'n valse voorstelling van God die waarheid wat die Skriftuur vir ons gee. As u hierdie afdeling oortuigend gevind het, ontstaan die vraag: " Ken u regtig vir God?" Ons sal nou verder kyk na wat die Bybel oor Hom leer.


  Back
Home
Next